Ons het mekaar vir die eerste keer op 25 Junie 2010 gesien in Hatfield Square tydens die Wêreldsokkerbeker. Ons het net ‘n paar woorde gewissel en toe was dit net totsiens. Ons het nie name en telefoonnommers uitgeruil nie. Daardie aand het Liné vir haar sussie, Sunande gesê sy het nounet haar trouman ontmoet. Sunande het net gelag en haar nie aan Liné gesteur nie. Die volgende dag het Liné op Facebook ‘n boodskap ontvang van Vincent, wat sê: ‘‘Ek weet dit is nogals weird dat ek jou sommer net invite. Ek het myself nie eers gisteraand voorgestel nie, jong. Maar ja, ek moes uitvind wie jy is, want ek wou nog saam met jou kuier, maar toe ek weer sien toe gaan jy huis toe.” Nommers was toe uitgeruil.
Ons eerste date was by die dieretuin. Ons het lekker grappies gemaak en toe op 20 Julie 2010 vra Vincent die vraag voor Liné se huis, “sal jy met my uitgaan”? Liné het nie dadelik ja of nee gesê nie, maar ‘n vraag terug gevra, “kan jy commit”. Hy het dadelik ja gesê en vir Liné gesoen. Na 6 jaar vra hy toe die ander groot vraag en ons raak verloof. Ons liefde vir mekaar blom elke dag meer en meer. Ons kan nie sonder mekaar nie. Ons ondersteun mekaar in alles wat ons doen. Vincent bring tot vir die kinders by die skool lekkers. Liné sal weer op haar beurt langs ‘n boorgat sit en vol water en modder word. Ons sê elke dag dankie dat ons in mekaar se lewens ingekom het en vir die baie spesiale gevoel wat daar tussen ons is. Daar is baie min mense wat mekaar so volkome verstaan en aanvul soos ons. Ons kan ten alle tye volkome eerlik wees oor hoe ons voel sonder vrees vir misverstand en ook presies sê wat ons bedoel. Jy is die mooiste iets wat daar in my lewe is en daarom sê ek elke dag dankie vir wat daar tussen ons is. |